Die storie van Muriel Brandskool begin in 1964. Dit was gedurende hierdie jaar dat
die skool se borgliggaam, die “Eastern Transvaal Cerebral Palsy Association” (nou
die “Gauteng Cerebral Palsy Association”) tot stand gekom het. Die onstaan van Muriel
Brandskool is moontlik gemaak deur die fondsinsamelings van hierdie assosiasie, onder
leiding van Mev Muriel Brand.
Muriel Brandskool het sy deure vir die eerste keer geopen op 14 Januarie 1969. Die
skool was aanvanklik in ‘n baie ou, nouliks gerestoureerde myngebou, met 27 leerders
en 18 personeellede. Soos leerdergetalle toegeneem het, het dit duidelik geword
dat groter fasiliteite nodig was. In Augustus 1970 het die Brakpan Stadsraad grond
beskikbaar gestel, wat deur die skool gekoop is, en gedurende September 1973 is daar
begin bou op die nuwe perseel in Brenthurst, Brakpan. Op 9 September 1977 is die
ou “State Mines” perseel gesluit en is die skool verskuif na die nuwe moderne gebou.
Die eerste matriekklas het hul finale eksamens aan die einde van 1981 geskryf. Teen
die einde van die skool se 36ste bestaansjaar in 2005, het die leerdertal op 460
gestaan en het die personeel bestaan uit meer as 100 professionele- en ondersteunende
personeellede.
Tans word die skool geklassifiseer as ‘n provinsiale publieke skool vir leerders
met spesiale onderwysbehoeftes en word dit deur die Gautengse Onderwysdepartement
gesubsidieer.