Simbole en Geskiedenis

Visie

Insurgite – neem ‘n hoër vlug - om te verseker dat leerders met spesiale
onderwysbehoeftes hulle volle potensiaal op elke lewensterrein verwesenlik.

Missie

Die voorsiening van uitnemende, bewysgefundeerde, buitengewone onderwys
en terapeutiese behandeling aan leerders met spesiale onderwysbehoeftes.

Logo

Muriel Brandskool skool se logo behels 'n voël wat opstyg. Die voël reflekteer die leuse van die skool, "Insurgite", Latyns vir "neem 'n hoër vlug". Die logo verwys ook na die phoenix wat uit sy eie as herrys, of - 'n gestremde kind wat die uitdaging van sy of haar gestremdheid oorkom en sukses behaal.


Lees meer...

Die simbool van die wilde ganse in formasievlug verteenwoordig spanwerk en spangees in die skool. Buitengewone onderwys is 'n multidissiplinêre onderneming en spanwerk is noodsaaklik ten einde sukses te behaal.

Geskiedenis

Die verhaal van Muriel Brandskool begin in 1964. Dit was die jaar waarin die skool se borgliggaam, die Oos-Transvaalse Vereniging vir Serebraalverlamdes (nou die Gauteng Vereniging vir Serebrale Gestremdheid), gestig is. Hierdie organisasie se ywerige fondsinsameling, onder leiding van mev. Muriel Brand, het die daarstelling van 'n nuwe skool vir kinders met serebraalgestremdheid moontlik gemaak.

Muriel Brandskool se deure is op 14 Januarie 1969 die eerste keer geopen. Die skool is aanvanklik gehuisves in ou herstelde myngeboue. Dit het begin met 27 leerders en 18 personeellede. Namate die leerlingtal gestyg het, het dit duidelik geword dat 'n groter standplaas gevind sou moes word. Die stadsraad van Brakpan het in Augustus 1970 grond aan die skool geskenk. Die eerste sooi by nuwe skoolterrein in Brenthurst, Brakpan, is in September 1973 gespit. Die ou skool by State Mines is op 9 September 1977 ontruim en die nuwe skool betrek. Die eerste matriekklas het in 1981 gematrikuleer. Teen die einde van die skool se 36e jaar in 2005 het leerlingtal gestyg na 460. Die personeelkomplement bestaan uit meer as 'n 100 professionele- en ondersteuningspersoneel.

Die skool word geklassifiseer as 'n provinsiale openbare skool vir buitengewone onderwys en word gesubsidieer deur die Gauteng Departement van Onderwys.

Hierdie bladsy hoort in 'n raamstel "frameset". Indien u dit direk deur 'n soekenjin bereik en ongeraamd gevind het, kan u die geraamde webwerf bereik deur op die skakel "Tuisblad" hieronder te klik.

Tuisblad